Ondanks erge breinbeserings sien Henk Lourens geen ander beroep vir hom as die een waarvoor hy ‘n passie het nie – deur MORYN HANZEN
Henk Lourens is in Pretoria gebore en het daar grootgeword. Hy het sy hoërskoolloopbaan op Brits voltooi.
“My pa, my oom en my een neef was ‘n polisieman. Dis maar ‘n familieding,” vertel Henk, vir wie sy polisie loopbaan nog altyd ‘n gegewe was.
Na skool is Henk na die polisiekollege in Pretoria waarna hy by die destydse Eenheid-19 begin werk het, wat soos deesdae se openbare-orde-polisiëringseenhede was. Nadat hy sy keuring en kursus geslaag het, is hy na die NIU (National Intervention Unit).
Hy het sy vrou, Riana, deur gemeenskaplike vriende ontmoet. “Ons het nog A Bug’s Life gaan kyk,” vertel hy met ‘n glimlag oor hul eerste afspraak.
Reeds vroeg in sy loopbaan het hy ‘n skietwond aan sy been opgedoen toe hulle in Thokoza ‘n gesteelde voertuig moes oppas tot die insleepdiens gekom het. ‘n Vrou het na hulle toe gehardlooop en om hulp geroep.
“Daar was twee mense in haar huis wat haar dogter wou ontvoer. Ons het toe te voet nadergeloop.” Hy en ‘n kollega het alkant van die pad die huis genader. Die twee misdadigers het uit die huis gekom en die een het sy wapen op Henk-hulle gerig. Henk is in die been getref, maar gelukkig kon hulle die ontvoering voorkom.
In 2006 het hy ‘n tweede skietwond aan diens opgedoen. Die abdonimale wond het naarheid en braking veroorsaak en sy longe het platgeval. Hy was ‘n tyd lank onder verdowing in die waakeenheid. Dieselfde jaar het Henk vir ‘n verplasing na die openbare-orde-polisieringeenheid op Upington gevra.
‘n Dag wat Henk nooit sal vergeet nie is 10 Julie 2015. “Ons moes sewe-uur op Kakamas wees. Dit was veronderstel om net ‘n optog te wees.” Die optoggangers wou ‘n memorandum oor swak dienslewering aan die munisipale bestuurder oorhandig.
Die was egter nie beskikbaar nie en dit het veroorsaak dat die optoggangers toenemend gewelddadig geraak het deur bande aan die brand te steek en klippe na die polisie te gooi.
As adjudant-offisier was Henk in bevel van die peloton wat skarebeheer moes toepas om sodoende die publiek te beskerm. Die oproerige skare moes met skokgranate, traangas en rubberkoeëls beheer word.
Die bestuurder van ‘n bakkie het ongeveer halfdrie die middag die geblokkeerde gebied geïgnoreer deur dit doelgerig binne te ry terwyl Henk besig was om agteruit te loop om die skare en die peloton in die oog te hou. Hy het verbygery, ‘n U-draai gemaak en Henk van agter omgery.
“Die laaste ding wat deur my kop gegaan het, was ‘n selfoongesprek wat ek met my vrou gehad het.”
‘n Bewustelose Henk is na die hospitaal op Kakamas en daarvandaan na Upington geneem. Die dokter wat hom gestabiliseeer het, het heeltyd by hom gebly tot hy die volgende dag na ‘n hospitaal in Bloemfontein gevlieg is. Hy is drie keer geresussiteer voor hy in Bloemfontein aangekom het.
Henk het diffuse breinbeserings, asook long- en beenbeserings opgedoen. Hy het ‘n “traggie” gehad om asemhaling te vergemaklik asook ‘n voedingsbuis deur sy maagwand.
Daar is vir sy lewe gevrees en hy vertel daar is voortdurend vir hom gebid. Hy wys vir my ‘n foto waarop ‘n vriend en kollega Cobus Maree saam met hom afgeneem is nadat hy weer van sy omgewing bewus begin raak het. Sy een oog was nog blou en hy kon skaars sy duim regop hou om te wys: “Ek’s oukei.”
By die aanvanklike toetsing deur die neuroloog ‘n maand ná die ongeluk, was sy motoriese tellings ‘n skrale 21/112 en kognitief 28/98. By ontslag het dit ná nog ‘n maand wonderbaarlik tot 80/112 en 73/98 verbeter.
Frustrasie is een van die dinge wat hy die beste van die rehabilitasietydperk onthou. “Dit was klein goedjies soos dat hulle my moes leer sluk en loop en ek moes basies van voor af leer skryf,” vertel hy.
Riana moes teruggaan Upington toe terwyl hy in Bloemfontein agtergebly het. Die isolasie gedurende hierdie tyd was vir hom ‘n slegte ervaring, veral oor naweke.
Henk was twee en ‘n half maande in die hospitaal en rehabilitasiesentrum voordat hy gereed was om ontslaan te word. Die dokter het gesê hy mag nie vir die volgende ses maande bestuur nie en het aanbeveel dat hy weer stelselmatig aan mense om hom gewoond raak.
Tuis was hy meer dikwels gefrustreerd weens die beenstut wat hy etlike maande lank moes dra asook sy swak balans wat hom verplig het om met krukke te loop.
Self ‘n eenvoudige takie soos om koffie en roosterbrood te maak en eet, was ‘n probleem. “Jy moet dit staan en eet, want jy het nie ekstra hande om dit mee te dra nie.
Hy moes homself telkens vermaan om nie oorhaastig te raak nie. “Henk byt vas, dis deel van jou lewe, kom net deur hierdie proses. Dit help nie jy probeer jouself aanjaag nie,” het hy gedink.
Op 7 Maart 2016 kon Henk weer teruggaan werk toe, maar is tydelik na ‘n ander afdeling verplaas sodat hy kans sou hê om verder te herstel. Hy het reeds in April vanjaar sy staatsmagtiging teruggekry wat hom in staat stel om weer met ‘n polisievoertuig te mag ry.
Sy bloeddruk is hoër as voor die ongeluk, sy regterbeen is korter en sy regterknie is dikker. Weens bloeding aan die linkerkant van sy brein, is sy regterkant steeds swakker.
“Die een kant van my brein weet wat ek kan doen, maar my lyf sê moenie die kar voor die perde span nie, daar is sekere goed wat nog eers moet plaasvind,” sê Henk oor aanpassings ná die ongeluk.
Henk sukkel vanweë die breinbesering soms om sy woorde duidelik uit te spreek.
“Riana spot my as ek haar in die oggende wakker maak. Dan sê sy partykeer: “Bokka, bly stil. Jy klink soos een wat ‘n paar drankies in het,” sê Henk.
Hy voel sy spraak het ‘n bietjie verbeter. “Voor ek iets sê, moet ek net eers dink wat ek wil sê.” Hy het vir homself ‘n roetine by die huis uitgewerk, want wanneer hy dinge op ‘n sekere manier doen, help dit hom om nie van goed te vergeet nie.
Henk antwoord sonder enige twyfel wanneer ek vra of hy graag weer wil doen wat hy die laaste 27 jaar van sy lewe gedoen het. “Ja, want ek het nie by die polisie aangesluit om nou ‘n plastiek-poliesman te wees nie.”
Ek wou by Henk weet wat hy vir ‘n jongmens sal sê wat by die polisie wil aansluit.
“Doen dit, maar wees voorbereid dat dit jou lewe kan regeer en jou lewe vorentoe gaan bepaal. In die oggende as jy jou naambalkie aansit, moet jy weet daar’s ‘n kans dat jy nie vanaand gaan huis toe kom nie.”
Sedert die ongeluk kan hy niks ruik of proe nie, tog is kosmaak steeds ‘n belangstelling.
Soms moet hy net vir Riana roep om seker te maak dat daar nie te min of te veel sout in die kos is nie.
Henk se raad aan mense wat in die nabyheid van ‘n optog kom, is om dit sover as moontlik te vermy. “Kry ‘n ander pad indien moontlik.”
Hy sê die feit dat hy weer ‘n normale lewe kan lei, is net God se genade alleen. “Ek beskou alles as ‘n wonderwerk. Bloot die feit dat ek kan loop, dat ek myself in die oggende kan bad en aantrek, is ‘n bewys van sy genade. Ek sien dit as ‘n voorreg om in die oggende wakker te word. Ek’s nie bang vir die dag wat voor my lê nie, want ek weet my Skepper is klaar daar.”
Met dank en toestemming aan Vrouekeur. Die artikel het die eerste keer op 10 November 2017 verskyn.